Bernard Montgomery

Bernard Law Montgomery
Bernard Montgomery
Sir Bernard Montgomery
Bynaam(e) Monty
Geboortedatum 17 November 1887
Geboorteplek Kennington, Surrey, Engeland
Sterfdatum 24 Maart 1976 (op 88)
Sterfplek Alton, Hampshire, Engeland
Lojaliteit Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk
Diens/Tak Britse Leër
Jare in diens 1908–1958
Rang Veldmaarskalk
Eenheid Royal Warwickshire Regiment
Veldslae/oorloë Eerste Wêreldoorlog, Tweede Wêreldoorlog

Veldmaarskalk Bernard Law Montgomery, 1ste Burggraaf Montgomery van Alamein, KG GCB DSO PC DL (17 November 1887 – 24 Maart 1976); met die byname "Monty" en "The Spartan General",[1] was ’n senior Britse offisier wat in die Eerste én Tweede Wêreldoorlog geveg het.

Montgomery se eerste deelname aan oorlogvoering was tydens die Eerste Wêreldoorlog as ’n junior offisier van die Koninklike Warwickshire-regiment. In die Eerste Slag van Ypres is hy by Méteren, naby die Belgiese grens by Bailleul, deur ’n skerpskutter deur die regterlong geskiet. Toe hy as ’n generale stafoffisier na die Wesfront terugkeer, het hy in April/Mei 1917 aan die Slag van Arras deelgeneem. Laat in 1917 het hy ook aan die Slag van Passchendaele deelgeneem. Aan die einde van die oorlog was hy stafhoof van die 47ste (2de Londense) Divisie.

In die tussenoorlogse tyd was hy die bevelvoerder van die 17de (Diens)bataljon, Koninklike Musketiers en later die 1ste Bataljon, Koninklike Warwickshire-regiment, voordat hy bevelvoerder van die 9de Infanteriebrigade en daarna die bevelvoerende generaal (GOC) van die 8ste Infanteriedivisie geword het.

Tydens die Westelike Woestyn-veldtog van die Tweede Wêreldoorlog was Montgomery van Augustus 1942, deur die Tweede Slag van El Alamein tot met die finale Geallieerde oorwinning in Tunisië in Mei 1943 bevelvoerder van die Britse Agtste Leër. Hy het daarna die Britse Agtste Leër aangevoer tydens die Geallieerdes se inval in Sisilië en Italië en was in bevel van al die Geallieerde grondmagte tydens die Slag van Normandië (Operasie Overlord), van D-dag op 6 Junie 1944 tot 1 September 1944. Vir die res van die Noordwes-Europese veldtog, insluitende die mislukte poging om die Rynrivier oor te steek tydens Operasie Market Garden, was hy bevelvoerder van die 21ste Leërgroep.

Toe pantsertroepe van die Duitse Weermag deur die Amerikaanse linies in België breek tydens die Ardenne-offensief, is Montgomery aangestel as bevelvoerder van die noordelike skouer van die uitloper. Dit het tydelike bevel van die Amerikaanse Eerste en Negende Leër ingesluit.

Montgomery se 21ste Leërgroep, insluitende die Amerikaanse Negende Leër en die Eerste Geallieerde Valskermleër, het die Ryn in Maart 1945 in Operasie Plunder oorgesteek, twee weke nadat die Amerikaanse Eerste Leër die Ryn tydens die Slag van Remagen oorgesteek het. Teen die einde van die oorlog het troepe onder Montgomery se bevel deelgeneem aan die omsirkeling van die Ruhr-nes, die Nederlanders bevry en ’n groot deel van Noordwes-Duitsland ingeneem. Op 4 Mei 1945 het Montgomery die oorgawe van die Duitse magte in Noordwes-Europa aanvaar by die Lüneburgse Heide, oos van Hamburg, ná die oorgawe van Berlyn aan die USSR op 2 Mei, maar voor die algemene oorgawe aan die Supreme Headquarters Allied Expeditionary Force (SHAEF) op 7 Mei.

Ná die oorlog het hy opperbevelvoerder van die Britse Leër van die Ryn in Duitsland geword, en daarna generalestafhoof (1946–1948). Van 1948 tot 1951 was hy voorsitter van die Opperbevelvoerderskomitee van die Westerse Unie. Hy het daarna, tot met sy aftrede in 1958, gedien as onderbevelvoerder van Navo se militêre opperbevelstruktuur.

  1. Various Authors (1969). Illustrated Story of World War II. The Reader's Digest Association. p. 284. ISBN 978-0-89577-029-5.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search